Thursday 6 July 2023

Hierdie nuusbrief is gerig aan al ons voorbidders wat so getrou vir ons gebid het tydens ons uitreik na die kinders en kinderwerkers in die Kalahari, asook aan al die werkers en mense waarmee ons daar saamgewerk het.



Die Begin

Op 25 Februarie 2023 het ek en Meisie Bott ons eerste kontak gemaak en begin reëlings tref vir wat ‘n heerlike Goddelike afspraak uitgedraai het. Aanvanklik wou die gemeente in Rietfontein, wat naby die Namibiese grens geleë is, ons net vir die Vrydag en Saterdag 16 en 17 Junie akkommodeer, wat nie vir my en Julia sou werk nie weens werksverpligtinge tuis. Maar die Here het ander planne gehad. Die datum, wat vir beide partye die beste gewerk het, was vanaf 26 Junie tydens die skoolvakansie. Soos wat ek en Meisie reëlings getref het, het Meisie die Here kort-kort hoor planne byvoeg. Gevolglik het die program soos hieronder uitgedraai.

Die Aankoms

Na ‘n lang, maar heerlike rit op paaie wat ons nog nooit gery het nie - die steil Van Rhyn’s pas en die lang, baie stil, reguit stukke met die droë, mooi omgewing - het ons Saterdagmiddag laat by Meisie en Hendrik se oord, Kalahari Info Centre and Accommodation aangekom en is warm ontvang. Ons het vir die

week daar oorgebly en is deur hulle geseën met verblyf en te veel kos. Ons het die voorreg gehad om hulle wonderlike personeel te leer ken en te seën met die geestelike kos wat ons kon gee. Ek sien daarna uit om die Here se seën te sien uitstort in reaksie op hulle vrygewigheid.


Sondag het ons die Rietfontein VGK kerk se diens bygewoon en ek kon duidelik die Here se salwing daar aanvoel. Ons het van die betrokkenheid van baie mense in die diens gehou. Dis wat die Here graag wil hê.

Opleiding en Kinderaanbiedings


Maandag het die opleiding in Philandersbron begin. Ons het 9 werkers opgelei. Die videoprogram behels die wys van ‘n 3-5 minute video en dan die bespreking van ‘n vraelys oor die video met die kinders onder leiding van die Heilige Gees. Hiertydens word die kinders bedien met behulp van die vrae wat hulle verdere lering gee. Ons opleiding bestaan uit teorie in die oggend, wat demonstrasies van die proses insluit en dan in die middag ‘n geleenheid vir elke werker om self ‘n video en die vrae aan te bied, net om hulle gemaklik met die proses te kry.

Dit was aangenaam om die werkers se gawes en entoesiasme te beleef terwyl hulle dit aanbied met die minimum voorbereiding (weens gebrek aan tyd). Weereens was die gasvryheid uit die boonste rakke.




Aan die einde van die opleiding het ons ongeveer 70 kinders bederf met die Woord van God in die vorm van ons video en prettige vrae besprekings. Die kinders was skerp en deelnemend en het dit baie geniet.

Dinsdag het ons sestien werkers van die VGK kerk en die Lutherse kerk in Rietfontein opgelei. Weereens het ons die werkers se deelnemendheid geniet en het hulle aanbiedings vir ons baie hoop gegee vir die toekoms van kinderwerk in die Kalahari. Tydens die praktiese sessie het ons in twee groepe verdeel en gesien hoe die Here sy instrumente vir die kinderwerk in die area slyp.


Woensdag vroeg het ons die pad gevat na Welkom, op die grens van die Kgalagadi Transfrontier Wildpark (die ou Kalahari Gemsbok Park). Daar het ons ses werkers opgelei en besef dat die Here oral, selfs in die stowwerige klein dorpies, kwaliteit mense opgerig het vir Sy Koninkrykswerk.


Kgalagadi


Corera, ‘n amptenaar in die park en koördineerder van die kinderwerk daar, het vir ons plek gereël in die personeel gastehuis in die Twee Rivieren kamp in die park. Die son was aan die water trek toe ons daar aankom en ons het besluit om by die voëlskuiling (bird hide) te gaan sit in die hoop om iets te sien. Ten spyte daarvan dat ons gehoor het dat daar nie juis diere soontoe kom nie, het die Here ons bederf met ‘n pragtige Gemsbok wat kom water drink het.

Die volgende oggend het ons met eerste lig in die park ingery. Ons het ‘n uur en ‘n half tot ons beskikking gehad en het besluit om ‘n driekwartier uit en terug te ry. Die guns van die Here was met ons en ons het ‘n luiperd, Julia se gunsteling dier, met twee tiener welpies vir lank kon beskou soos wat hulle op ‘n randjie vertoef en gespeel het. ‘n Ander toeris, ‘n fotograaf, was nogal jaloers dat hy drie dae lank

moes wag om hulle te sien en ons kry die voorreg binne vyftien minute nadat ons begin ry het. Die Here gee om vir elke klein behoefte wat ons het. Daarna het ons ‘n trop Gemsbokke en Springbokke reg langs die pad gekry.


Kinderkonferensies

Die Donderdag het ons ‘n kinderkonferensie, wat bestaan uit drie videos afgewissel met speletjies en eetgoed, by Welkom aan 60 kinders 






en die Vrydag by Rietfontein aan 100 kinders aangebied. Die kinders was weereens deelnemend en het dit geweldig geniet. Ons was op ons beurt baie beïndruk met die kwaliteit van die kinders se gedrag by al die plekke waar ons bedien het. 



Op pad terug van Welkom, Donderdag, het ons by Klein Mier gestop en ‘n videoprogram vir ongeveer 30 kinders aangebied.




Keimoes

Intussen het ‘n gemeente in Keimoes by Meisie gehoor van die opleiding en ons gevra om by hulle te stop op pad terug. Ons het dus op Sondag 2 Julie tien van hulle werkers opgelei en weereens beleef hoe die Here mense gekies het vir Sy plan om die kinders ‘n toekoms te gee. Ons het oorgebly by George en Kitta met wie ons kosbare gesprekke oor die Woord van God en die Here gehad het. George het die gedagte gekry om die tieners, wat by hom katkisasie doen, te laat insit by die opleiding. Hy was besorg dat hulle dalk woelig kon wees, maar hulle het aan ons lippe gehang. Die ongeskonde waarheid van die Woord bind altyd die aandag as die Heilige Gees beheer toegelaat word.

Na die opleiding het ons ongeveer 30 kinders bederf met die Woord in die vorm van ‘n video aanbieding.

Wat vir ons wonderlik was om te beleef, was hoe die Here ons gebruik het om die werkers geestelik toe te rus met Woordkennis, gebedstrategieë, en geloof vir die taak vorentoe. ‘n Mens kan net uitgee wat jy ontvang het.


Die Ritte

Iets wat ons baie geniet het was die paaie en die ritte. Die pad tussen Calvinia en Upington was baie reguit en baie stil – net ertstrokke. Die pad tussen Upington en Rietfontein was pragtig so tussen die rooi sandduine deur, maar was so stil dat, as jou kar sou breek, hulle jou seker eers twee dae later sou kry 😏. Die pad voor die oord waar ons gebly het was so stil dat jy gevaar loop om nie te kyk of daar ‘n kar kom as jy wegtrek nie.


Nadat ons by Keimoes weg is het ons vir die eerste keer vinnig na die Augrabies waterval gaan kyk 



en toe oor Springbok terug gery. Dit was nou vir jou ‘n baie mooi pad met sy variasie van berge, koppies, hope groot klippe en rotsformasies van ‘n verskeidenheid




kleurskakerings. Die Here is darem ‘n kunstenaar duisend.




Na ‘n week van ongelooflike Goddelike teenwoordigheid en ingrypings is ons terug by die huis, verlangend na die mense van die Kalahari wat baie diep in onse harte ingekruip het.

Baie dankie aan ieder en elk wat bygedra het tot hierdie Goddelike tyd, van die voorbidders tot die studente, die dames wat die kos voorsien het, Meisie en Hendrik wat die verblyf in Rietfontein voorsien het, Tongketa, die wag by die oord, wat ons baie gehelp het, Corera wat die veblyf in Kgalagadi voorsien het en die Here wat alles bestuur het. Loof sy grote naam!!

Ons is reeds besig om ons volgende opleidingstrip te beplan.

Ek wil net afsluit met 'n gedagte. 'n Boodskap wat die Here sterk op ons harte gelê het tydens die opleiding was "jy moet weergebore word".

Nikodemus het volgens Johannes 3 na Jesus gekom en gevra wat hy moet doen om gered te word. In vers 3 lees ons: Jesus het geantwoord: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, niemand kan die koninkryk van God sien as hulle nie weergebore word nie." Nikodemus het dit nie lekker verstaan nie en toe antwoord Jesus in vers 5-7: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, niemand kan in die koninkryk van God ingaan as hy nie uit water en Gees gebore word nie. 6 Vlees baar vlees, maar die Gees baar gees. 7 Jy moet nie verbaas wees oor ek sê: 'Jy moet wedergebore word nie.'"

God het vir Adam en Eva belowe hulle sal sekerlik sterf as hulle van die boom eet. Soos julle weet het hulle nie dood neergeslaan nie. Wat het gesterf? Hulle gees het gesterf vir God. Dis hoekom mense nie die Bybel of vir God kan verstaan nie. God kan Hom nie aan mense, wie dood vir Hom is, openbaar nie, want die mense het nie kontak met Hom nie. Hulle gees en dus hulle kontak met Hom is steeds dood omdat hulle in sonde gebore word - Adam se sonde.

Die enigste manier om weer lewendig te word vir God is deur wedergeboorte wat weer jou gees lewendig vir God maak. Ek onthou baie duidelik hoe ek na wedergeboorte skielik die Bybel verstaan en gereelde openbarings van wie God is, gekry het. Soos Jesus gesê het; jy MOET weergebore word deur die Gees om 'n lewende verhouding met God te hê.

Hoe word jy weergebore? Bid eenvoudig as volg:

  1. Here ek erken dat ek 'n sondaar is en daarom nie kontak met God kan hê nie (Romeine 3:23). Ek bely my sonde.
  2. Dankie dat die Here Jesus gekom en die prys betaal het om my van my sonde te verlos. Ek aanvaar die geskenk.
  3. Ek plaas my hele hart en lewe onder U beheer en wil U gehoorsaam.
  4. Ek vra dat U Heilige Gees my vul en my lei, leer, help en troos.
As jy hierdie begeer en gebid het, is jy nou weergebore. Lees jou Bybel en gesels gereeld met die Here en sien hoe jy Hom ontdek.

Vrede vir almal!

Henry en Julia